Die liniaaltoets Dana Snyman - Feb 29 2008
Ek is dankbaar om te kan sê ek is nooit as kind gemolesteer of mishandel nie. Die Skoolsuster het my wel een keer ondersoek.
Hoe oud was ek? Dertien? Veertien?
Ek was in st. 6, en ons is nie op haar koms voorberei nie. Piet Kopbeen, ons hoof, het een oggend net in die saal aangekondig: “Die Skoolsuster is vandag hier om die standerd sesse te ondersoek, mense. Gee tog jul samewerking.”
Wat haar naam en van was, weet ek nie. Ek glo nie eens Piet Kopbeen het geweet nie, want hy het ook maar van haar as Die Skoolsuster gepraat.
Ek onthou te min van daardie dag.
Die Skoolsuster het met ’n wit Chev Firenza met ’n GG-registrasienommer gery, want toe ons uit die saal kom, het dit tussen die onderwysers se karre in die koelte naby die fietsloods geparkeer gestaan.
Sy was toe reeds in die tydelike spreekkamer wat ou Kopbeen-hulle vir haar in die boekstoortjie oorkant die kamerverlate ingerig het. Dít onthou ek.
Ek onthou ook stemme – die stemme van die groter seuns wat vir ons vertel wat Die Skoolsuster als met ons gaan doen: Sy druk ’n breipen by jou oor in om te toets of als reg daar binne is, amper soos jou ma met ’n koek maak. Sy spuit jou vir polio in, met ’n naald so dik soos jou middelvinger. Sy was jou met DDT as sy weeluise op jou kry.
En as Die Skoolsuster agterkom jy drink Bob Martin-hondetablette – iets wat baie van ons gedoen het – om jou hare blink en gesond te laat lyk, stuur sy jou na Kopbeen vir ses van die bestes.
Ek onthou die vrees.
Die prosedure was eenvoudig: Ons is ná Piet Kopbeen se aankondiging klaskamers toe, waar ons op woordsomme en Garibaldi en Cavour se stryd vir die unifikasie van Italië probeer konsentreer het, terwyl ons gewag het vir ’n stem oor die interkom om ons na Die Skoolsuster te stuur.
Die st. 6A’s is eerste geroep; eers die meisies, daarna die seuns, apart.
Ek was in 6B, saam ouens soos Eddie Scholtz, Boenas Engelbrecht, Ratel Boshoff en Tienie Tol. Ons was ná die 6A’s aan die beurt.
Was die meisies net so bang vir Die Skoolsuster soos ons seuns? Ek weet nie. Ek wonder.
Ek kan seker allerhande Freudiaanse verklarings probeer gee oor hoekom ons seuns bang vir Die Skoolsuster was, maar dit sal niks verander aan wat daardie dag gebeur het nie.
Eers moes ons ons klere in die kamerverlate uittrek, daarna het ons in ’n ry voor die boekstoortjie aangetree, in alfabetiese volgorde, net in ons onderbroek.
Ek was negende van voor af, agter Eddie Scholtz. Tienie Tol, wat agter my moes staan, was nie daar nie. Hy het in die kamerverlate gesit en huil. Tienie-hulle was arm, en hy het nie ’n onderbroek aangehad nie, en niemand wou hom een leen nie.
Eddie het boonop vir Tienie Tol gesê Die Skoolsuster gaan hom na die verbeteringskool op Standerton stuur omdat hy omlope het.
Ek wens ek het ’n foto gehad van ons klomp daar in die ry terwyl ons wag vir Die Skoolsuster om ons in te roep, een vir een.
Dit is nie maklik om te probeer onthou wat jy wil vergeet nie.
“Dink julle boys rêrig sy gaan dit doen?” Ek hoor nog die benoudheid in Ratel, wat twee van voor in die ry was, se stem. “Dink julle sy gaan dit doen?”
“Wat doen?” het Boenas gevra.
“ ’n Liniaal hier voor tussen ons bene onder ons njellas vasdruk en ons laat hoes.”
Die liniaaltoets.
Eddie, wat ’n broer in matriek gehad het, het ons nie juis gerusgestel nie. “Ons gaan hoes, pappa. Ons gaan hoes,” het hy gesê. “En as daai twee njellas van jou nie van die liniaal af lig nie, het jy trouble. My broer sê Die Skoolsuster stuur jou reguit hospitaal toe, dan sit hulle jou in traksie vir drie maande.”
“Genuine?” Ratel het sy Jockey Junior ’n aks hoër tussen sy boude opgewikkel.
Die meeste van ons het ’n Jockey Junior aangehad – van daardie sakkerige bontes, met die ingewikkelde gulpding hier voor.
En toe swaai die boekstoor se deur oop, en daar staan sy, in ’n wit uniform, met ’n Tisco-horlosie aan ’n kettinkie op haar bors en ’n klaslys in die hand, en sy roep: “Alberts, Nicolaas!” terwyl ons hande byna instinktief afskiet na die voorkant van ons Jockey Junior.
Niekie Alberts moes eerste ingaan. Die deur was skaars toe, toe sê Ratel: “Het julle ge-check, boys? Sy lyk soos Sybil Coetzee.”
Dit was ongelukkig waar: Die Skoolsuster was nogal mooi. Sy het ’n bietjie na die aktrise Sybil Coetzee gelyk. Wil jy die liniaaltoets druip as iemand wat soos Sybil Coetzee lyk, jou toets?
Daar was ’n bykomende probleem: Ratel het by my kom staan, met sy hande soos ’n skild hier onder. Hy moes volgende in sy Jockey Junior voor Die Skoolsuster verskyn. “Wil jy nie ruil nie, hê?” het hy gevra. “Wil jy nie voor my ingaan nie? Ek wil eers nog wag.”
Toe ek afkyk na die voorkant van Ratel se Jockey Junior, het ek besef hoekom Ratel eers nog wou wag.
Dit klink dalk als alte snaaks, maar dit was nie snaaks nie – nie tóé nie. Jy is veertien jaar oud, demmit. Jy staan daar in jou Jockey Junior, vol testosteroon, terwyl ’n mooi vrou ’n liniaal van die Transvaalse onderwysdepartement tussen jou bene indruk.
Ek loop nou nie daarmee te koop nie, maar ek is dankbaar om te kan sê ek is nooit as kind gemolesteer of mishandel nie.
Die Skoolsuster het my wel eenkeer ondersoek.
|