Brood en sous
Dana Snyman - Mei 09 2008
Dindsagmiddag ry ek deur ’n dorp in die Karoo, verby die kafee, die kerk en ’n vaal klompie geboue. Dan vang my oog dit: Langs ’n huis op die rand van die dorp staan ’n GMC-bakkie geparkeer – so ’n bleek bloue. Nes die een wat oorle’ Oupa gehad het.
Ek hou sommer so in die straat stil. Ek het mos ’n ding oor sulke bakkies en karre uit ’n vroeër tyd, ’n tyd toe ek nog iets van my onskuld oorgehad het.
Eers toe sien ek die oom op die huis se stoep. Hy moes my gewaar het, want hy kom by die stoeptrappies af, krom agter sy skaduwee aan stap hy, met ’n tiervellose tiervelhoed op die kop.
Ek parkeer en klim uit die kar. Dis net ná halfeen die middag en ’n koel windjie jaag stoffies uit die grond op.
Strauss, stel die oom homself oor die skewe tuinhekkie voor. Andries Strauss.
Ek vertel hom van oorle’ Oupa se GMC. Hy glimlag met ’n gesig vol plooie en swaai die hekkie oop. Ek kan maar kom kyk.
Dit kon net sowel oorle’ Oupa en oorle’ Ouma se werf gewees het. In die bedding voor die Sunbeam-rooi stoep groei krismisrose en kannas, en op die stoep se muurtjie pryk ’n ry varings in verfblikke. Die draadmatjie voor die voordeur lê op ’n dubbelgevoude streepsak. Die skoorsteen is swartgebrand. Die geute dop af en onder die kraan langs die huis drup water in ’n oopgesnyde Mobil-oliedrommetjie.
Iewers agter die huis kraai ’n hoender, en ’n swart hond met wit pote kom aangedraf. Pootjies.
Oom Andries se GMC het 93 789 myl op die klok gehad toe die klok loop staan het, jare gelede. Die enjin is al drie keer oorgedoen, verduidelik hy, maar met die bakwerk skort nie veel nie, behalwe vir die duik in die modderskerm waar hy een nag ’n donkie getref het wat glo naby Middelpos in die pad gestaan en slaap het.
Ons staan nog so daar by die bakkie, toe kom ’n tante met ’n bont voorskoot en pantoffels om die hoek van die huis. Dis tant Johanna, oom Andries se vrou. Jy moet kom eet, ou man, sê sy. Toe sy my gewaar, vat haar hand na haar mond, en val sy haarself in die rede: ’Skuus, kind. Ek’t jou nie gesien nie.
Oom Andries kyk eers na tant Johanna, dan kyk hy na my: Wil ek nie saam met hulle eet nie? Die kafee en winkel hier op die dorp is etenstyd gesluit
Die ou kossie is maar eenvoudig, sê tant Johanna.
Oorle’ Ouma het ook altyd so verskoning vir haar kos gevra.
Ek stap agter tant Johanna by die voordeur in; oom Andries en Pootjies kom agterna.
Die huis is klein en donker: Daar is ’n sitkamer, ’n korterige gang, twee slaapkamers, ’n badkamer en ’n kombuis waaruit die woordlose reuk van boerekos kom.
In die sitkamer talm ek ’n rukkie.
Baie dinge wat ek sien, het ek gedink ek het al van vergeet: Die bal-en-klou-bank en stoele, die gehekelde lappie op die koffietafel, met die blaarvormige porseleinbak daarop, vol plastiekvrugte.
Die mostertkleurige mat op die vloer en die delicious monster in die bruin pot in die hoek. Teen die muur hang geraamde foto’s van kinders en kleinkinders.
Tussen die gang en die kombuis is ’n houtdrumpel – ’n holgetrapte houtdrumpel. Die draadlosie met ’n draadhanger vir ’n antenna op die yskas is ingeskakel op RSG. Iemand lees ’n markverslag.
Oom Andries skakel dit af en beduie na een van die stoele by die tafel met die formica-blad. Maar ek gaan sit nie, ek gaan staan op die deurgeskilferde linoleum voor die koolstoof en maak my hande warm.
Op die stoof is ’n ingeduikte Hart-ketel in gesprek met ’n kastrol met ’n garetolletjie vir ’n handvatsel op die deksel. Dit fluit en sis en blaas stoom die lug in.
’n Houtlepel hang aan dieselfde spyker as die kerkalmanak, en op die vensterbank, langs ’n blikkie 3-in-1-olie, lê ’n slypsteen.
Die ou kossies is maar eenvoudig, sê tant Johanna weer, en begin die langwerpige enemmelkommetjies vol te skep met rys, lekker klam, klouerige rys. En soetpatats. En groenboontjies, met aartappels en uie en ’n peperigheidjie daarby.
Die skaapvleisbredie kom sommer kastrol en al tafel toe.
Kom’s dank, sê oom Andries, haal die tiervellose tiervelhoed van die kop af en laat val dit langs hom op die vloer.
Nou sit daar net sulke riffels op sy voorkop, terwyl hy bid: Segen Heer wat ons vandag hier in liefde van U ontvang om te eet. Wees ons genadig met U oordeel en meet ons nie met die snoere waarmee ons mekaar meet nie. Amen.
Ons eet. Ons eet lekker, terwyl Pootjies by die stoof lê en slaap.
Poeding is daar nie, maar toe ons klaar is, vra oom Andries of tant Johanna darem nie vir ons ’n broodjie kan bring nie.
Tant Johanna bring breë snye tuisgebakte brood op ’n broodplank. Dis ’n sonde om sous te mors, sê oom Andries, en hou die plank nader. Kry.
Ons lê die brood op ons borde neer en skep die bredie se laaste sousies met ’n lepel daaroor.
Ek kyk na oom Andries en sien vir oorle’ Oupa, en Pa, en al my ooms wat so sit en brood en sous eet het ná ete.
Dis al ná twee toe ek tant Johanna groet en bedank. Oom Andries sit die hoed tiervelloos terug op die kop en stap saam buite toe.
“Jy weet,” sê hy voor ons groet. “Hier was in ’94 laas ’n witman in hierdie huis. Hy was van die NP gewees.”
|