Listing your business at Kemptalk.com costs only R480 per year!

Thank you for visiting us. You are visitor No.


Directory

Index:      A      B      C      D      E      F      G      H      I      J      K      L      M      N      O      P      Q      R      S      T      U      V      W      Y

Jansie's Catering Equipment Hire
Hiring - Catering equipment    Verhuring - Onthaaltoerusting

'Little Miss Personality'
Dana Snyman - Mei 05 2008

CHANTÉ-LIZE van Lieb en Zantie het onlangs mos aan die Little Miss RSA-kompetisie by Sun City deelgeneem. En sy het goed gevaar. Sy is as Little Miss Personality aangewys.

Die meisietjie wat as Little Miss RSA gekroon is, sê Lieb, kom van Parys af – Parys in die Vrystaat.

Ek het hom anderaand in die kroeg raakgeloop, vir Lieb. Dit was al laterig en hy was spraaksamer as gewoonlik. Lieb is eintlik mos maar ’n stil ou. Zantie, sy vrou, is die een met die baie woorde. Dit weet ons almal.

Die Little Miss RSA-kompetisie, sê Lieb, is ’n groot ding, baie groter as wat ons besef, al skryf die koerante nie juis daaroor nie. Meisies tussen tien en twaalf kan deelneem, en hulle kom van oral af: Kaapstad, Pretoria, PE, Sasolburg, Polokwane. Daar was selfs enetjie van Rawsonville af.

En dan was daar die een van Parys wat gewen het, natuurlik.

Lieb sê Zantie sê die kind – die een van Parys – moes nooit gewen het nie, want sy is glo reeds dertien, en sy het eye shadow aangehad. Die kinders mag glo grimering gebruik, maar nie eye shadow nie.

Maar, ag, sê Lieb, hy gee nie werklik om nie. Dis vir hom lekker om te weet sy kind is Little Miss Personality, want is dit nie wat op die ou end saakmaak nie: jou persoonlikheid, jou binneste?

Buitendien, Chanté-Lize, wat nou tien is, het al ’n klomp ander skoonheids?titels gewen. Sy was al Little Miss Foschini, Little Miss Jakaranda Mall en Little Miss Valentine. Sy was ook eerste prinses in die Little Miss Krugersdorp-kompetisie. En eintlik moes sy gewen het, want die enetjie wat as Little Miss Krugersdorp aangewys is, is van Soweto af en is gekies omdat sy swart is.

LIEB sê Zantie sê dis goed vir die kinders se selfvertroue om aan sulke kompetisies deel te neem. En dit mag dalk so wees, sê Lieb.

Dit is net vrek duur om ’n mooi kind te hê, sê hy. Die Little Miss RSA-kompetisie kos hom baie geld. Dis R5 000 net om in te skryf. En dan moet jy minstens twee nagte by Sun City slaap en eet terwyl die beoordeling gedoen word.

Hy moes ook betaal vir ’n haarkapper met die naam van Mervin se verblyf, kos en dienste, sê Lieb.

En dan is daar nog die kind se uitrustings. En die foto’s. En die DVD wat gemaak is.

En die modelkursus vooraf. En die dramaklasse. En die sanglesse.

Lieb sê Zantie sê Chanté-Lize is mooi en aantreklik genoeg om dit eendag baie ver as sanger te bring. Hy sê Zantie sê jy kan deesdae vergeet om ’n sanger te word as jy nie mooi is nie.

Die beoordeling vir Little Miss RSA was geweldig streng, sê Lieb. Daar was ses beoordelaars. Hy ken hulle nie, hy weet net een het al in Egoli gespeel en ’n ander een is daardie baie, baie bekende Idol, hy kan nie sy naam nou onthou nie.

Hulle het ’n onderhoud met elke kind gevoer, sê Lieb. Baie professioneel.

Hy het die meisietjie van Rawsonville net jammer gekry, want terwyl hy en Zantie en Chanté-Lize saam met die ander daar buite die Sun City-saal wag om geroep te word vir die onderhoud, toe spring die enetjie van Rawsonville op en gaan drink water by ’n kraan daar naby.

Toe sien een van die beoordelaars haar en sê vir die kind se ma: “Jammer, mevrou, dit spyt my ons sal punte moet aftrek. ’n Little Miss RSA kan nie water by ’n kraan drink nie. It’s not lady-like, I’m afraid.”

Die kind van Rawsonville se ma het glo vreeslik gehuil en die pa het gedreig om die beoordelaars hof toe te sleep. Die pa het ook glo vir die Idol – ai, wat is sy naam tog nou weer? – geskree: “Moenie met jou Idols-maniertjies by my kom nie. Ek’s nie Deon Maas nie; ek’s van Rawsonville af. Ek bliksem.”

LIEB sê Zantie het hom dadelik gestuur om vir hulle Valpré-water te gaan koop.

Lieb sê Zantie was so op haar senuwees voor Chanté-Lize se onderhoud, sy het skelm in die toilet gaan rook. Sy was bang as sy buite die saal rook, trek hulle ook punte by Chanté-Lize af.

Maar op die ou end het Chanté-Lize die beoordelaars so ge-charm dat sy as Little Miss Personality gekies is.

Hy weet nie hoe kry die kind dit reg nie, sê Lieb. Die beoordelaars sit in ’n ry by ’n lang tafel voor in die saal, toe moes sy alleen voor hulle gaan staan en haarself voorstel: “Hi, ek’s Chanté-Lize Liebenberg van die Kaap en ek is tien jaar oud. Ek hou van swem, dans, TV-kyk, MXit, swiets en mans.”

Die beoordelaars het lekker daarvoor gelag, sê Lieb.

Die volgende aand was dit die kroningsplegtigheid in Sun City se Superbowl. Die seremoniemeester was ook al op TV, sê Lieb. Maar hy kan ook haar naam nie nou onthou nie. Sy het lang bene.

Lieb sê Zantie sê Chanté-Lize kan aanstaande jaar beslis Little Miss RSA word, want dan gaan sy al baie meer volwasse wees as nou.

LIEB het nou die aand baie dinge vir ons in die kroeg gesê wat Zantie sê.

Hy het later, ná nog ’n dubbel, ook dinge begin sê wat hy sê. Ek gaan dit nie herhaal nie.

Ek gaan nie vertel wat Lieb oor die haarkapper met die naam Mervin sê nie, en oor Valpré-water, en oor die baie, baie bekende Idol wie se naam hy nie kan onthou nie.

Ek gaan ook nie vertel wat Lieb vertel het wat Chanté-Lize geantwoord het toe die beoordelaars haar gevra het of sy haar ouers lief het nie.
 


Moms & Tots Workshop


Jewellery

 


Tents

 


Onthou jy nog?